Soos 'n dief in die nag
Stil, soos 'n dief in die nag, het dit die plaas oorval.
Die weervoorspellers het gesê die verwagte minimum
is 10 grade celsius. Almal was verlig, want na twee
weke van deurnag bande brand, kon almal doen met 'n
goeie nagrus.
Swartryp
- 'n koue wat die laaste druppeltjie lewe uit 'n druiwetros
en blaar uitwurg, het ons plaas op een mooi Okteraand
verwoes. Geleidelik het die werklikheid ingesink, en
verbasing het plek gemaak vir paniek. My ma bel my -
"Jy moet maar bid my kind."
Stadig,
amper bang, loop my pa in die wingerdrye af. Hy vat
saggies aan die trossies, swart en verrimpeld. Nog net
twee maande was nodig voor hierdie trossie 'n volronde,
sappige tros sou word - die trots van enige uitvoerboer.
Vir
maande word die wingerdstok gepamperlang. Na die oes
word sy blare 'n mengelmoes van intense kleure - roesbruin,
goude, geel en rooi. In die winter gooi hy sy blare
af, en dan word die lote teen die styf gespande drade
opgevleg en die wilde takke netjies gesnoei. Na 'n lang,
verdiende winterrus, wys die ou, bruin stompe in Augustus
die eerste tekens van lewe. Orals begin klein, kraakvars
blaartjies hulle verskynsel maak, en voor jy jou oë
kan uitvee is die wingerd oortrek met 'n digte, lowergroen
blaartapyt.
Desembers
gons dit op die plaas, en daar is 'n aansteeklike opgewondenheid
en energie in die lug. Daar is nie plek vir 'n muis
in ons huis nie. Studente, skoolkinders, onderwysers
en selfs die dominee kom help druiwe pak. Ekstra werkers
word uit Kuruman aangery, en in die aandlug weergalm
hulle liedjies in 'n vreemde taal.
Ek
skrik wakker uit my dagdroom. Hoe gaan 'n Desember sonder
'n druiwe oes wees? Somervakansie was nog nooit vir
my see nie. Eerder swem in die rivier, 'n oranje-rooi
sonsondergang, druiwe eet tot my keel brand van al die
soet, en wind-koel waatlemoen onder die poeierkwassie
boom.
Ek stap tussen die wingerde in om die ryp van naderby
te bekyk, dit kan seker nie so erg wees nie. Dit is
'n ontstuimige dag, die wind waai stof in my oë
en dit blits in die verte. Ek stap in die wingerdry
in. Ja, dit lyk erg. Ek stap nog dieper in, maar dit
help nie. Die blare ís bruin, en die trossies
lyk soos dwerg rosyntjies. Ek dink aan my pa - sy groot
hande wat so versigtig met die druiwe werk.
Druiwe
is te pieperig besluit ek - in die winter mag dit nie
ryp nie, en in die somer kan dit nie reën nie,
selfs die sterk rand is 'n bedreiging vir die waarde
van die arme druiwetros. Nee, besluit ek, ek gaan met
'n bankbestuurder trou. Iemand wat nie omgee of dit
reën, sneeu of hael nie.
"Hoekom,"
vra my pa. "Wat kon hy dan nog gedoen het?" Elke dag
het hulle die weerkantoor gebel. Drie-uur het die plaasmense
opgestaan en ou motorbande plek-plek aan die brand gesteek
om 'n rookkombers oor die wingerd te vorm, en die ryp
te verwilder. Nou weet ek waar daai ou gesegde vandaan
kom - dit ís die heel koudste net voor die son
opkom.
Druiwe
kenners kom uit plaas toe, om te red wat daar te redde
is. Dit is darem net vyf tot tien persent van die oes
wat daarmee heen is, sê hulle.
Die
plaas is stiller as gewoonlik, dink ek. So amper asof
die ryp die opgewondenheid oor die oes ook kom doodryp
het. Ek en my pa sit en praat onder die poeierkwassie
boom. Hy kyk uit oor die wingerd - "Die Liewe Vader
weet maar altyd die beste."
Twee
weke later bel hy my - die stokke loop weer plek-plek
uit! Ek stuur 'n skietgebed op - dankie vir die wonder
van die natuur.