GESKIEDENIS
VAN DIE ONTSTAAN EN ONTWIKKELING VAN DIE TAFELDRUIFBEDRYF
IN DIE BENEDE-ORANJERIVIERSTREEK VAN SUID-AFRIKA.
________________________________________
DEEL
1
GEOGRAFIESE EN GESKIEDKUNDE VERWYSING
Hierdie
Suid-Afrikaanse tafeldruifproduksiestreek is geleë
ongeveer by 28° Suid en strek 450 km langs die Oranjerivier,
van Groblershoop in die ooste tot by Klein Pella in
die verre weste. Die die dorre noordwestelike streek
van Suid-Afrika staan bekend as Gordonië, en is
vernoem na Kolonel Robert Jacob Gordon, wat tweede-in-bevel
was van die Nederlandse garnisoen in Kaapstad in die
1770’s. Hy was die eerste setlaar om die rivier te ontdek,
en het dit vernoem na die Nederlandse Koningshuis van
Oranje. Inheemse mense het nog altyd na die rivier verwys
as die “Gariep” wat “Groot Rivier” beteken, en met die
verandering van Suid-Afrika se regering, is hierdie
naam weer ingestel, maar word oor die algemeen min gebruik.
Die
streek se kommersiële sentum is Upington, wat oorspronklik
Olyvenhoutdrift genoem is, maar is in 1885 is dit verander
en na Sir Thomas Upington vernoem, wat toe die Eerste
Minister van die Kaapkolonie was.
Die
Oranjerivier is soms die “Nyl van die Suide” genoem,
omdat soos met die Nyl, daar in die laer deel van die
rivier ‘n groot kontras is tussen die lowergroen van
die eilande en oewers van die rivier en die omliggende
woestyn, en ook omdat die vrugbare slik wat die rivier
op sy laer oewers neerlê ideaal is vir die verbouiing
van ‘n verskeidenheid gewasse.
Die
Oranje is Suid-Afrika se langste rivier, en is 1860km
van sy oorsprong in die Lesotho- Hooglande tot by sy
mond, en dreineer ook die Vaalrivier van verder in die
noorde. Oor die eeue is die rivier ook ‘n draer van
diamante, van Suid-Afrika se binnelandse diamantvelde
na die rivier se mond by Oranjemund waar die seestroom
noordwaards beweeg, en dus is die Oranjerivier ook die
bron van Namibië se groot diamantontginningsbedryf.
___________________________________________________________
DEEL
2
‘N KORT GESKIEDENIS VAN DIE ONTWIKKELING VAN DIE TAFELDRUIFBEDRYF
IN DIE BENEDE- ORANJERIVIERSTREEK
Tafeldruiwe is hier eers in die 1980’s in betekenisvolle
hoeveelhede geproduseer, en die uitstekende pryse wat
produsente gekry het op ondervoorsiende Noordelike Halfrondlande
se markte deur die Kersgety, het hulle aangespoor om
die woestynlandskap te tem, en tafeldruiwe het die streek
welvaart in hierdie streek geskep. Sedert die 1980’s
het produksie geweldig uitgebrei, en die streek het
intussen ontwikkel tot een van Suid-Afrika se grootste
tafeldruif-produksiestreke, met ‘n jaarlikse produksie
van 17 miljoen 4.5kg kartonne. Die tafeldruifbedryf
is verreweg die grootste bedryf in the Noord-kaap, met
8000 hektaar onder tafeldruiwe, en werkskepping vir
tot 50 000 mense gedurende die oesseisoen. Die bedryf
het ook die streek se aansienlike inkomste uit mynbou
oorskry.
In
die 1970’s was grootskaalse veeboerdery die grootste
bedryf in die Gordoniëstreek. Karakoelboerderye
het in dié tyd gefloreer, en het heelwat hoër
opbrengstes gelewer as die kontantgewasse wat op die
rivier se oewers gekweek is.
Upington
was toe ingerig as ‘n sentrum vir veeboerdery, en die
spoedige verandering in behoeftes vir die bediening
van die landbousektor was verantwoordelik vir die vinnige
groei en ontwikkeling van die dorp.
Die
landbou in die streek het langs die rivieroewers ontwikkel
as gevolg van die beskikbaarheid van water en die vrugbare
alluviale grond langs die oewers. Die tradisionele gewasse
wat hier gekweek is, is meestal katoen, boontjies en
ander groente, maar die pryse van hierdie wisselgewasse
was van jaar tot jaar hoogs onstabiel, en dit was vir
die produsente moeilik om ‘n konstante inkomste te verhaal.
Saam
met die traditionele wisselgewasse, is daar ‘n lang
tradisie van wingerdverbouing vir die lewering van rosyne.
Ongelukkig was rosynproduksie ook onbetroubaar as gevolg
van wisselvallige weer, en dus het produsente die lewensvatbaarheid
van wynproduksie as ‘n alternatiewe oes begin ondersoek.
In 1968 is die eerste van die huidige sewe kelders langs
die rivier gevestig vir die produksie van stookwyn vir
gebuik in die vervaardiging van brandewyn. Vandag is
40% van hierdie kelders se produksie vir tafelwyn en
60% vir sap en stookwyn.
Toe
die kelders eers gevestig is, was die KWV (Koöperatiewe
Wynbouersvereniging van Suid-Afrika) die beheerligaam
vir wynproduksie en leweringskwota’s is aan produsente
toegeken op die voorwaarde dat hulle ‘n seksie wyndruiwe
sou aanplant, en die kwotasisteem is grotendeels daargestel
om ‘n oorproduskie van wyn te voorkom.
Die produksie van rosyne was ook gedurende die 1970’s
aan die toeneem in die streek a.g.v. ‘n oplewing in
die bedryf, maar teen die begin van die 1980’s was daar
‘n omkeer en die mark vir rosyne het weer afgeneem.
‘n
Aantal produsente het ook sultanas gekweek vir die inlêmark.
Hierdie druiwe is per vragmoter 800km na die inmaakfabriek
op Ashton in die Wes-Kaap vervoer vir inmaak in vrugteslaaie.
Dit was vir ‘n geruime tyd ‘n goeie mark vir druiwe,
maar aan die einde van die 1970’s het vervoerkostes
en korrelgroottevereistes tot so ‘n mate toegeneem dat
dit nie meer lonend was nie, en baie produsente het
begin ondersoek instel na die moontlikheid van ‘n nuwe
soort oes.
Die
eerste produsent om tafeldruiwe vanuit die streek uit
te voer was David van Rensburg van Kakamas, wat in 1976
druiwe per lugvrag na Engeland gestuur het, en vir die
volgende paar jaar het hy jaarliks verdere besendings
van tussen 600 en 1000 kartonne Engeland toe gestuur.
Intussen het ander produsente belangstelling begin toon
en teen 1980 het ander produsente ook begin druiwe uitvoer.
Op
daardie stadium het die Sagtevrugteraad die enkelkanaal
bemarkingstelsel uit Suid-Afrika beheer, en omdat hy
die uitvoere onafhanklik van die raad gedoen het, moes
hy ‘n spesiale permit verkry. Daar was toe ook geen
infrastruktuur om hierdie nuwe ontwikkeling te bedien
nie, en hy moes self ‘n inspekteur laat invlieg uit
Kaapstad om die nodige inspeksies op sy besendings vrugte
te doen.
Teen die vroeë tagtigs het die ander baanbrekers
van Kanoneiland, Kakamas en Augrabies al begin druiwe
produseer vir uitvoer deur die Sagtevrugteraad en die
meeste van die druiwe is per lugvrag na die Verenige
Koningkryk gestuur, omdat hul baie hoë pryse behaal
het, met die hoogste pryse vir die vroegste besendings.
In die begin het net 10% van die streek se produsente
oorgeslaan na tafeldruifproduksie, maar die ongekende
hoë pryse vir diè landbouproduk het meer
produsente aangemoedig om te begin met tafeldruiwe,
en die aanvraag vir vroeë grond het vinnig begin
toeneem.
Aanvanklik
het hierdie oplewing sonder veel struktuur of samewerking
ontwikkel, en in 1984 het 40 van die nuwe produsente
by ‘n geskiedkundige vergadering op Blouputs die Oranjerivier
Tafeldruifprodusentevereniging (OTV) gestig, met Sarel
Nieuwoudt as hul eerste voorsitter. Die OTV is gestig
om samewerking tussen produsente te bevorder, met die
doel om die tafeldruifproduksie in die streek uit te
brei en te bevorder. Die organisasie was verteenwoordigend
van al die tafeldruifprodusente langs die rivier, en
daarna het elke streek, bv. Kanoneiland, Keimoes, Kakamas,
Augrabies, ens. hul eie produsenteorganisasies gestig.
Hierdie produsenteorganisasies was van groot belang
vir die verskeie streke se ontwikkeling, en die groot
koöperatiewe koelkamers in elke streek is onder
leiding hiervan gestig en bestuur tot op die hoë
vlak van vaardigheid waarop hulle vandag bedryf word.
The
tydsberekening van toegang tot die mark was, en is nog
steeds, van die grootste belang, omdat die tendens bly
dat hoe vroeër die druiwe op die mark kom, hoe
hoër die pryse wat daarvoor verkry word. Omdat
druiwe nie verder ryp word nadat hul gepluk word nie,
en ook nie vir lang periodes geberg kan word nie, is
goeie tydsberekening van die oes en spoedige besending
noodsaaklik vir sukses.
Hoe
verder na die weste, hoe vroeër word die druiwe
ryp, en in die vroeë 1990’s was daar ietwat van
‘n grondkoopdolheid, veral langs die rivier by Blouputs,
wes van Augrabies en Rooipad. Om ‘n idee te gee van
die opbrengs uit tafeldruiwe in daardie jare: ‘n produsent
het ‘n plaas op Blouputs vir ietwat van ‘n winskoop
gekoop, maar hy kon die plaas se hele koopprys uit die
eerste oes verhaal!
Die
premie op vroeë druiwe is steeds in die algemeen
goed, en in sommige gevalle sny produsente ‘n aansienlike
persentasie van die groen druiwe af, en maak staat op
‘n kleiner oes wat vroeër ryp word met die hoop
op ‘n hoër opbrengs teenoor ‘n groter oes wat later
ryp word.
In
die laat 1980’s en deur die 1990’s, het die weswaartse
ontwikkeling van nuwe grond vir meer as 100km uitgebrei,
vanaf Blouputs en verby Baberas, Skuitdrift (die ou
amptelike kruispunt tussen die Unie van Suid-Afrika
en Duitswes-Afrika), Raap en Skraap tot by Klein Pella.
Tafeldruifproduksie het ook ooswaarts van Upington uitgebrei
tot by Groblershoop, en die streek se produksie het
voortdurend toegeneem, alhoewel die pryse van die druiwe
‘n stadige afwaartse tendens getoon het van die oorspronklike
ongekende pryse.
In
2000 is ORPA (Oranjerivier Produsente Alliansie) gestig
om die uitdagings van deregulering binne die tafeldruifbedryf
aan te spreek. Die hoofdoel van hierdie Seksie 21-maatskappy
was die konsolidasie van voorsiening van ongeveer 200
produsente en 30 uitvoerders om die kwaliteitstandaarde
en dissiplines binne die bedryf te herstel met die oog
op prysstabiliteit en verbruikersvertroue.
______________________________________________________
DEEL
3
DIE HULPBRONNE EN UITDAGINGS TER SPRAKE BY DIE ONTWIKKELING
VAN DIE TAFELDRUIFBEDRYF IN DIE STREEK.
HULPBRONNE
MARK
In die vroeë 1980’s het die Suid-Afrikaanse Sagtevrugteraad
(SVR) begin met ‘n ontwikkelingsbeleid om die uitvoer
van druiwe te bevorder. Daar was in die Verenigde Koningkryk
‘n groot toename in die aanvraag vir pitlose druiwe,
maar die klimaat in die tradisionele druiwestreke in
die Wes-Kaap is nie ideaal vir pitlose druiwe nie, en
dus het die produsente in die streke nie veel vertroue
gehad in hul vermoë om pitlose druiwe te produseer
nie. Die raad het dus elders in die land gekyk na moontlike
pitlose produksie. Diè deel van landbouproduksie
was in hierdie tydperk onder die beheer van enkelkanaal
bemarkingsrade, en a.g.v. sinvolle samewerking tussen
die Droëvrugte, Inmaak en Sagtevrugterade het dit
geblyk dat die Sultanawingerde wat oorspronklik vir
rosyne aangeplant is in die meer geskikte warm, droë
klimaat langs die Oranjerivier, die potensiaal ingehou
het vir die gesogte pitlose tafeldruifproduksie. Die
Sagtevrugteraad het twee Israelse wingerdbou-deskundiges
na die streek gestuur om hierdie moontlikheid te ondersoek,
en hul positiewe bevindinge het dan ook gelei tot die
begin van die streek se tafeldruifbedryf. Gedurende
die 1980’s was die mark so lonend dat die ontwikkeling
langs die Oranjerivier die vinnigste ontwikkelende landboustreek
ter wêreld was.
WATER
Die Oranjerivier is Suid-Afrika se grootste rivier,
en is verantwoordelik vir 23% van die afloopwater van
die ganse Suid-Afrika. Enigiemand wat al die krag van
die Augrabies-Waterval naby Kakamas beleef het, sal
verstaan dat die water van die Grootrivier werklik die
lewensbloed van die Noordkaap is. Water was aan die
produsente beskikbaar, en in oorvloed.
Basiese
waterregte is in 1977 amptelik toegeken teen 30 ha per
individu en 60 ha per maatskappy, en sederdien was dit
moontlik om nog ‘n beperkte hoeveelheid water te koop
by die regering. In 1998 het die waterregte verander,
en daarna is waterregte geensins verder toegeken nie.
Produsente wat uitbreidings aangegaan het, moes dus
waterregte aankoop by diegene wat nie hulle regte benodig
het nie. In 1995 was die prys van water ongeveer R3
000.00 per ha, maar dit het intussen toenemend duurder
geword. Die prys word tussen koper en verkoper vasgestel,
en huidiglik is die prys tussen R15000.00 en R18000.00
per hektaar.
‘n Interessante ontwikkeling is dat met die toestemming
van die Direkteur-Generaal, produsente in die Ooskaap
(1 500km ver na die suidooste) hul waterregte uit die
Oranje-Visrivierprojek aan produsente in die Benede-Oranjerivierstreek
mag verkoop, omdat die water se oorsprong in dieselfde
groot Oranjeriviertoeloop is.
Die
tradisionele metode van watertoediening in die alluviale
oewergronde is vloedbesproeiing. Dit word nog in sekere
gevalle gebruik, en dikwels in samewerking met gespesialiseerde
grondgelykmaaktoerusting wat van lasertegnologie gebruik
maak om die rigting en intensitiet van water se vloei
optimal te benut.
Die
streek het vele kanale, waterwiele, sluise en keerwalle
wat oor die jare gebou is om besproeiing moontlik te
maak, en hulle is die hulpbron waarop die streek se
landbousektor gevestig is. Die latere verkryging van
‘n elektrisiteitstoevoer het dit moontlik gemaak om
die watersisteem aansienlik uit te brei met groot, moderne
besproeiingspyplyne en pompstasies vir die grootskaalse
ontwikkeling van tafeldruifaanplantings. Vandag is vloedbesproeiing
meestal vervang deur moderne watertoedieningstegnieke
soos drupbesproeiing en mikrobesproeiing, en water word
ook gebruik vir waterverkoeling, waar water net bokant
die wingerdkap in ‘n fyn mis gespuit word om die druiwe
te beskerm teen die streek se hoë temperature.
GROND
Aanvanklik het die meeste van die oewerprodusente redelik
klein stukkies grond gehad, en vroeër is die vrugbare
woestyngronde buite die rivier se loop nie as geskik
vir bewerking beskou nie en dus het hierdie buitegronde
nie die waarde gehad wat hul vandag het nie. Die buitegronde
is minder vrugbaar, en daar was ook die verdere probeem
om water opdraand na hierdie grond te pomp. In sommige
plekke was daar ook nie genoeg bogrond vir ontwikkeling
nie, en die plooë het soliede graniet getref net
sentimeters onder die grondoppervlak. Mettertyd het
produsente die voordele van ontwikkeling op die buitegronde
besef. Die warm, droë mikroklimaat weg van die
oewers lewer gesonder druiwe as by die oewers, en die
premies wat vir die vroeë druiwe ontvang word,
het produsente aangespoor om m.b.v. tegnologie die probleme
van die grond te oorkom, en as gevolg daarvan het die
waarde van hierdie grond in die afgelope 20 jaar ‘n
dramatise groei getoon.
Vandag
pomp produsente water na die buitegronde, bring addisionele
vragte grond van elders in, gebruik dinamiet om van
moeilike rotsformasies ontslae te raak, en maak gebruik
van bemesting en spoorelemente om die grond se samestelling
te verbeter.
REGERINGSBYSTAND
Die Regering se NOK (Nywerheidsontwikkelingskorporasie)
se billike finansieringsgeleenthede was die finansiële
aansporing vir baie van die groter ontwikkelings langs
die rivier. Met werkskepping as doelwit , het die regering
aansienlike ontwikkelingstoekennings beskikbaar gestel
aan produsente waar hul ontwikkelingsplanne voldoen
aan die vereistes, en die toekennings het ook baie gunstige
rentekoers- en belastingvoordele ingehou. Die hewige
kapitaalinspuiting in die area het grootliks bygedra
tot die streek se spoedige ontwikkeling, maar daar is
produsente wat nie van hierdie finansiering gebruik
gemaak het nie wat glo dat hierdie onbeteuelde ontwikkeling
‘n negatiewe effek gehad het op die huidige ekonomiese
situasie in die streek.
‘n
Verdere aansporing wat aan uitvoerprodusente gebied
is, is die uitbetaling vir ‘n Algemene Uitvoerderstoelaag
en dit was ‘n 7% belastingvrye terugbetaling van die
produsente se totale jaarlikse omset. Hierdie voordeel
is met deregulasie beëindig.
WINGERDSTOKKE
Die streek se tafeldruiwbedryf het ontstaan a.g.v. die
markaanvraag vir pitlose druiwe, en die vindingrykheid
van die produsente wat met ‘n nuwe benadering gebruik
gemaak het van hul bestaande hulpbronne. Hulle het weer
‘n keer gekyk na hul Sultanas (Thompson Seedless) druiwe
wat hulle vir rosyne verbou het, en het die wingerdvoorbereiding
aangepas vir die verbouing van vars tafeldruiwe. Hulle
moes dus die opleistelsels verander en ook die nodige
bewerking van die druiwe aanpas. Onder andere het dit
die afgooi van ‘n aantal groen trosse geverg, om te
sorg dat die wat oorbly ‘n aanvaarbare korrelgrootte
bereik, en dit is beslis deur die ouer geslag rosynprodusente
as ‘n vermorsing beskou! Toe was hierdie wingerde nog
“mak” ongeënte Thompson Seedless, maar mettertyd
is die oorspronklike stokke vervang met geënte
stokke van verskeie nuwe kultivars. Die meeste van die
geënte jong stokkies word gekoop by die gevestigte
tafel en wyndruifkwekerye in die Wellington streek (Weskaap),
of by wingerdstokveilings in die Wes-Kaap.
ELEKTRISITEIT
Die voorsiening van elektriese krag was een van die
streek se belangrikste keerpunte, en ‘n noodsaaklike
hulpbron vir die streek se geweldige groei. Upington
se munisipaliteit het in 1972 elektrisiteitstoevoer
ontvang, en daarna het elektrisiteit geleidelik deur
die 1970’s weswaarts en ooswaarts met die rivier langs
beskikbaar geword. Voordat elektrisiteit beskikbaar
was, is diesel gebruik vir waterpompe en die vroegste
koelkamers se kragopwekkers, maar elektrisitietstoevoer
het dit moontlik gemaak vir produsente om aan te sluit
by die kragtiger, goedkoper en skoner energiebron.
Die
krag word voorsien deur Eskom Edms. (Bpk.), Suid-Afrika
se Staatskragdiens. Die groot tafeldruifontwikkelings
het geei tot ‘n emorne aanvraag na elektrisiteit in
die streek, en oor die afgelope 20 jaar het Eskom behoorlik
gespook om aan die aanvraag te voldoen. ‘n Goeie voorbeeld
hiervan is die onlangse voltooiing van ‘n Transmissie-invoer
vanaf Aggeneys na Paulputs substasie in die Onseepkans
omgewing wat ‘n kapitale uitleg van R94m bedra het.
Die
beskikbaarheid van krag en die daaropvolgende landbouontwikkeling
het ook die dorpe van Upington, Keimoes and Kakamas
laat floreer en uitbrei, en dit het ook gelei tot ‘n
groter aanvraag na elektrisiteit in die dorpe self.
(Sien
insetsel vir geskeidenis en verdere inligting oor Eskom
in die Benede-Oranjerivierstreek)
Belangrike datums in die ontwikkeling van Eskom in die
Benede-Oranjerivierstreek
1971
- Upington Munisipaliteit kry Eskom krag
1974 - Kakamas en Keimoes Munisipaliteit word van Eskom
krag voorsien
1978 – 1979 - Augrabies en omgewing kry Eskom krag
1978 - Vroeg hierdie jaar word elektrisiteit vanaf die
Aggeneys 400/220kV aftap
substasie aan die Weskus voorsien vir groot klante te
Okiep, Kleinsee en
Oranjemund. Ook was krag voorsien aan die Sishen – Saldanha
spoorlyn.
1978 - 1979 - Kanoneiland en omgewing word van elektrisiteit
voorsien.
1981 - Blouputs kry Eskom krag.
1988 - Die Grootvloed vernietig Eskom se infrastruktuur
en veroorsaak dat groot
gebiede vir lang tye sonder elektrisiteit sit, soos
byvoorbeeld Kanoneiland en Perde-
eiland waarvan die rivierkruising weggespoel het.
1998 - Die groot ontwikkeling by Raap en Skraap Boerdery
lewer eerste produksie.
ARBEID
Aanvanklik kon die behoefde aan arbeid uit die plaaslike
bevolking gevul word, maar soos die streek verder ontwikkel
het, het ‘n groot behoefde ontstaan aan ‘n groot seisoensarbeidsmag
en produsente het begin arbeid trek uit ‘n wyer gebied.
Vandag is daar ‘n permanante arbeidsmag van ongeveer
5000 werkers, en gedurende die oesseisoen groei die
getal tot ongeveer 50 000. Die arbeidsmag bestaan grootliks
uit drie van Suid-Afrika se stamgroepe: die grootste
groep is Tswanas, en hul kom oorspronklik van die Kuruman/
Vryburg area, oos van die streek, met kleiner groepe
Namas uit Namakwaland suidwes van die rivier, en ook
Suid-Afrika se “kleurling”-bevolking.
UITDAGINGS
TEGNIESE KENNIS
Die tekort aan tegniese kennis en ondersteuning het
aan die begin groot probleme geskep, omdat die voorbereiding
van tafeldruiwe ‘n hoogs tegniese proses is en die rosynprodusente
nie toegang gehad het tot die nodige tegniese ondersteuning
nie. Dit was aanvanklik een van die grootste stuikelblokke,
en toe hulle versoeke vir ondersteuning gestuur het
na die gevestigde tafeldruifstreke in die Wes-Kaap,
het hul geen ontvang nie, moontlik omdat hulle as direkte
kompetisie beskou is. Die Departement Landbou se NIVV
(Navorsingsinstituut vir Vrugte en Vrugtetegnologie)
het toe tegniese ondersteuning in die streek aangebied,
en daarna het die Sagtevrugteraad voorligtingsbeamptes
in die streek geplaas om produsente by te staan. Later
het Unifruco (die maatskappy wat uit die Sagtevrugteraad
ontwikkel het en wat Suid-Afrika se enkelkanaal bemarkingstelsel
vir die sagtevrugtebedryf behartig het) hierdie diens
oorgeneem, en die voorligtingsbeamptes het belangrike
navorsing gedoen op tafeldruifproduksie in die streek,
en het ook omvattende tegniese wingerdboukursusse aan
produsente aangebied.
Deregulasie van die vrugtebedryf het ook privatisering
meegebring, en daarna het Unifruco nie meer hierdie
dienste aangebied nie. Die verkeidenheid uitvoermaatskappeie
het hierdie belangrike behoefte aangespreek deur bakwame
voorligtingsbeamptes in die veld te plaas om hulle produsente
te bedien, en baie van hulle het jare se ondervinding
by Unifruco agter die rug gehad. Die streek het tans
ook onafhanklike tegniese konsultante. Onder die lankgevestigde
produsente berus daar ‘n diepe gevoel van dankbaarheid
teenoor daardie eerste baanbrekervoorligtingsbeamptes
wie se bydrae noodsaaklik was vir die sukses en groei
van die bedryf langs die Oranjerivier.
VERPAKKINGSINFRASTRUKTUUR
Die hoogsontwikkelde pakhuise en verkoelingsfasiliteite
waarmee die streek vandag spog is wêrelde weg
van die eenvoudige sisteme waarmee die bedryf begin
het. In die vrooë jare het baie van die produsente
eenvoudig direk in kartonne gepak in die wingerd, of
op opslaan-tafels in voertuigstore, en die druiwe op
kombuisskale geweeg. Tydens oestyd is die temperatuur
gereeld bo 35°C en daar was geen verkoeling of voorverkoeling
in die store nie. Die tegniese kennis van verpakking
was so beperk dat dit soms ‘n hele dag geneem het om
‘n standaard palet te verpak. Dit was totaal onanvaarbaar,
omdat wanneer die oes gereed was, moes dit so spoedig
moontlik gepak en verskeep word om die beste pryse op
die uitvoermarkte te haal, en dus is produsente genoodsaak
om bitter vinnig te leer oor vinnige en doeltreffende
verpakkingsmetodes. Dit was hierdie dringende behoetde
wat die meeste produsente aangespoor het om, ten spyte
van die groot onkoste, hul eie, goed toegeruste pakhuise
te bou. Vandag het die pakhuise baie verbeter, en die
meeste van hulle maak gebruik van tegnologies gevorderde
masjienerie soos by fasiliteite vir die verpakking van
“punnets” en funksioneer as produktiewe, verkoelde fabrieke.
VERKOELINGSINFRASTRUKTUUR
Dit is die geskiedenis van die ontwikkeling van die
koöperatieve koelkamers langs die Oranjerivier
wat die ware verhaal vertel van hoe die samewerking
tussen die produsente gehelp het om die streek te bevorder
en verbeter.
Vroeg
in die streek se ontwikkeling het produsente agtergekom
dat hulle klimaat verkoeling van die verpakde druiwe
noodsaaklik gemaak het, maar die nodige infrastruktuur
het toe nie bestaan nie. In sommige gevalle was hulle
genoodsaak om van vleisverkoelingsgeriewe gebruik te
maak. Die groot kapitaaluitgawe om verkoelingsgeriewe
te vestig, het produsente laat ondersoek instel na koöperatiewe
geriewe. Sommige produsente het aanvanklik gehuiwer
om hierdie groot uitgawe tot ‘n koöperatiewe inisiatief
te maak, maar dit het binne die eerste paar jaar duidelik
geword dat sonder verkoeling hulle nie sou slaag nie,
en vandag het die meeste produsent aandele in hul plaaslike
koelkamer, en sommige het ook hul eie privaat verkoelingsgeriewe
op hul plase.
VERVOERLOGISTIEK
Die Benede-Oranjerivierstreek is afgeleë: 950 km
na Johannesburg en 800 km Kaapstad toe. Die vestigingskostes
van hul wingerde was nog altyd duurder as in die tradisionele
produksiestreke in die Wes-Kaap, omdat die nodige pale,
draad, besproeiingspype ens. verder vervoer moet word.
Aanvanklik was dit nie vir hulle ‘n probleem nie omdat
die hoë pryse vir die druiwe maklik hiervoor vergoed
het
Die vervoer van hierdie hoogs bederfbare produk na die
mark was in die vrooë jare wel ‘n uitdaging, en
‘n paar produsente het eenvouding na Johannesburg gery
met hulle plaasvragmotors! Hulle het gou agtergekom
dat dit noodsaaklik is om die druiwe in verkoeling te
vervoer. Om te sorg dat die “koue ketting” behoue bly
tot by die mark, word druiwe wat per lugvrag uit Upington
gevlieg word ook op die vliegtuig verkoel, en druiwe
vir verskeping word per koeltrok na die verkoelingsfasiliteite
by IHD (Internasionale Hawedienste) in die Kaapse hawe
vervoer. ‘n Interessante statistiek wat die streek se
vinnige ontwikkeling illustreer, is dat gedurende die
Oranjerivier se oestyd in die laat 1980’s, 65% van alle
koeltrokke in Suid-Afrika druiwe vervoer het op die
800km roete tussen Upington en Kaapstad! Aan die begin
het hul gebruik gemaak van Staatsvervoerdienste asook
private vervoerkontrakteurs, maar vandag is privaat
vervoerkontrakteurs verantwoordelik vir die 300 tot
400 koeltrokke wat per week Kaapstad toe loop tydens
die hoogtepunt van die oesseisoen.
KWALITEITSBESTUUR
Dit het as ‘n uitdaging vir die streek begin, maar het
mettertyd geweldig verander, en word nou as ‘n belangrike
hulpbron beskou.
In die vroeë dae het die Departement van Landbou
se Afdeling Produkstandaarde die vrugte se kwaliteitsinspeksies
gedoen. Die produsente se tekort aan kennis en vertroue
in hulle produk het beteken dat hulle aan die inspekteur
se genade oorgelewer was, en van die eerste inspekteurs
het hulle posisies van gesag gebruik om dinge maar moeilik
te maak vir die produsente. Dikwels het die produsente
gevoel dat hulle die inspekteurs na-ure op die hande
moet dra om te sorg dat hul druiwe die inspeksies sou
slaag, en dus was die inspeksiediens oor die algemeen
nie gewild nie.
Soos
wat hul tafeldruiwe leer ken het, het produsente meer
vertroue ontwikkel in hul produk, en met die vestiging
van PPECB (Perishable Products Export and Control Board),
die Staat se nuwe nasionale standaardinspeksiediens,
het die inspekteurs se standpunte verander, en hul rekord
wys dat die diens toegewyde diensverskaffers is tot
die bedryf. Die huidige standpunt by produsente is dat
PPECB-inspekteurs nie meer ‘n hindernis om “verby te
kom” nie, maar wel hul vennote in die handhawing van
kwaliteitsbestuur.
WEERSTOESTANDE
Alhoewel die ongelooflike pryse uit die VK markte vir
die vroeë, soet druiwe produsente sterk aangespoor
het om op grootskaal uit te brei, was daar en is daar
steeds met hierdie ontwikkelings groot risiko’s a.g.v.
weerstoestande ter sprake. Hierdie streek word dikwels
getref deur reën en hael gedurende die groendruiwetydperk,
en omdat druiwe hoogs sensitief en bederfbaar is, is
daar werklik ‘n groot risiko van oesverliese. Die premies
vir oesversekering is ook hoog, en die risiko het in
die afgelope paar jaar heelwat produsente aangemoedig
om die duur voorsorgmaatreël te tref om haelnette
oor hulle wingerde op te rig.
ENKELKANAALBEMARKING
Dit was in sommige opsigte ‘n hulpbron en in ander weer
‘n uitdaging. Eens is alle sagtevrugte-uitvoere uit
Suid-Afrika gedoen onder die vaandel van die Sagtevrugteraad,
so aan die een kant was die raad ‘n waardevolle diensverskaffer,
maar aan die ander kant het dit privaat ondernemingskap
verbied. Spesiale nismarkte het vir produsente gewink,
en ‘n hele aantal produsente het onwettig druiwe uitgevoer
na hierdie markte, met die hoop op beter pryse. Baie
van hulle het wel beter pryse behaal met hierdie geheime
uitvoere, en sommige van hulle het die laer graad klas
1½-vrugte uitgevoer, wat nie goedgekeur is vir
uitvoer nie. Die Sagtevrugteraad het ‘n wel alle vrugte-uitvoere
uit Suid-Afrika fyn dopgehou, en hul ondersoeke in die
streek het hierdie geheime aktiwiteite baie riskant
gemaak, en het gelei tot hofsake in ‘n paar gevalle.
DEEL
4
‘N OOG OP DIE HUIDIGE
Vandag ondervind die Noord-Kaap se produsente al hoe
meer kompetisie op die mark. Ander Suiderlike Halfrond-lande
is ook aangespoor deur die premies vir vroeë pitlose
druiwe om druiwe te produseer wat in die tyd bemark
kan word. Die markte wat die streek deur die 1980’s
en 1990’s voorsien het is dus nou nie meer ondervoorsien
nie en ontvang aansienlike volumes druiwe uit ander
lande in dieselfde tydperk, en die pryse vir druiwe
het ‘n afwaartse neiging getoon.
Dit
het veroorsaak dat die bedryf voortdurend innoverend
moet wees in sy gesofistikeerde verbruikers te bevredig.
Een van die grootste uitdagings vir die bedryf in die
volgende vyf jaar is verpakking. Hoewel dit ‘n baie
koste-intensiewe praktyk is, is gerieflike, skoon en
aantreklike verpakking ‘n goeie manier om waarde toe
te voeg tot die produk. Om die behoefde aan te spreek
het produsente in die streek groot beleggings gemaak
om hulle verpakkingstelsels aan te pas om in die vraag
na hierdie nuwe tipe maklike, deurskynende verpakking
te voorsien.
Die Europese supermarkte wat die streek se druiwe verkoop,
het onlangs ‘n nuwe reeks veiligheidsmaatreëls
voorgelê waaraan produsente almal sal moet voldoen.
Dit is die EurepGAP stelsel, en produsente is tans besig
om hul boerderypraktyke te verander om volgens hierdie
standaarde te funksioneer.
____________________________________________________
Met
Spesiale Dank Aan:
Peu Bezuidenhout (Naftali)
Wietz Botes (Dole)
Johan Burnett (Aggrigate farms)
Stanley Chamberlain (Oranjerivier Besproeiing)
Burger du Plessis (Heimat)
Khaki Goosen (Klein Pella)
Michael Holland-Nuter (Raap en Skraap)
Babs Karsten (Karsten Boerdery)
Louis Kriel (Vinfruco)
Paul Kruger (Eskom)
Gawie Nieuwoudt (Sonvallei)
Sarel Nieuwoudt (Sonvallei)
Francois Smit (PPECB)
Frikkie Spangenberg (Oppibult Boerdery)
Chris Steenkamp (Southern Farms)
Ean Steenkamp (Steenkamp Boerdery)
Attie Valentin (Valentin Boerdery)
David van Rensburg (Kromhout Boerdery)
Anton Viljoen (Raaswater Boerdery)
Brennie Wiehahn (Rodelande Boerdery).